Orania Fasiliteite en Aktiwiteite
Orania is in die Noordkaap-provinsie, 164 kilometer van Kimberley en 240 kilometer vanaf Bloemfontein. Die dorp is geleë aan die oewer van die Oranjerivier en word omring deur uitgestrekte karooveld.
Die Oranjerivier vloei hier taamlik wyd en dit bied ideale omstandighede vir watersport. Orania het lieflike sonsondergange en snags kan sterrekykers die onbesoedelde hemelruim bespied.
Orania val in ‘n somerreënvalgebied en tipies aan die karooklimaat word die somers baie warm. Temperature wissel van 30°C tot 38°C. Winters word deur snerpende koue nagte, maar heerlike dae gekenmerk. In die lente en herfs is die klimaat baie matig.
Orania se museum huisves talle geskiedkundige items, soos die Vierkleur wat Jopie Fourie by hom gehad het in die dodesel. ‘n Uitgebreide wapenversameling kan ook besigtig word.
Die Verwoerd Gedenkversameling kan besigtig word in die huis waarin mev Betsie Verwoerd haar laaste jare deurgebring het. Talle interessante persoonlike besittings van dr. Verwoerd asook geskiedkundige items van sy era word uitgestal.
Kleingeluk is die buurt waar besoekers unieke strooibaalhuise, ontwerp en gebou deur ‘n plaaslike argitek, kan besigtig. Die Kuierstoep en die biblioteek is ook daar geleë.
Rotsgravure is volop in die koppies rondom Orania. Daar is gravure wat tot so ver as 4,000 jaar terug dateer, asook ander interessanthede uit die geskiedenis van die omgewing, bv. gravure uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog.
Voelkyk, hengel en watersport is ook gewilde tydverdrywe.
Talle landbouprojekte, soos die groot pekanneutaanplantings onder besproeiing, is die moeite werd om te besigtig.
Onthou ook om die Koeksistermonument, wat voor die munisipale swembad staan, te besoek!
Orania beskik onder andere oor:
- Vakansie-oord
- Restaurante
- Rivier Spa
- Kuierplekke
- Koffiewinkels
- Klereboetiek en haarsalonne
- OK kruideniersware
- Talle besighede
- Wildplase
- Ouditorium
- Gholfbane naby
- Gemeenskapsaal met groot kombuis
- Pluimbalbane
- Landingstrook
- Landingsplek vir helikopter
- Swembadkompleks met tennisbane
- Industriële gebied
- Biblioteek
- Kerk- en skoolgeboue
- Koshuisgeriewe
- Rugbyveld
- Jukskeibane
- Poskantoor
- OTM-geriewe
- Motorhawe
- Besproeiingstelsel met pompstasie
Vir verdere inligting en brosjures oor besienswaardighede, besoek die Orania Beweging in die Vryheidsentrum op Orania. Kontak Coraine Oosthuizen by 053 207 0062 of John Strydom by 082 975 8132
|