Orania - waar Afrikaners lééf!

Welkom by Lief-Orania, die Afrikanertuiste se eie gemeenskap- en besigheidsportaal op die Internet. Vind uit waarom soveel Afrikaners betrokke raak by Orania, wat alles aangaan in ons gemeenskap en snuffel gerus deur ons besigheid gids vir meer inligting m.b.t. ekonomiese bedrywighede en beleggingsgeleenthede op Orania.

Orania is 'n Afrikaner dorp geleë langs die Oranjerivier in die pragtige Bo-Karoo. Sedert die ou verlate en vervalle Waterwese-dorpie in 1991 deur 'n paar pioniers aangekoop is, het Orania gegroei tot 'n volwaardige dorp wat vandag die tuiste is van sowat 1 000 permanente inwoners en byna 10 000 uitwoners - d.i. mense wat nog nie hervestig het nie, maar wel deel is van Orania se gemeenskap deur hul lidmaatskap van die Orania Beweging.

Orania is in alle opsigte 'n "groen dorp" met vriendelike inwoners, puik skole, goeie fasiliteite, interessante besienswaardighede en 'n groeiende getal besighede wat aan meeste behoeftes voorsien. Hier is wel baie geleenthede vir nog heelwat meer besighede op Orania!

Orania word gekenmerk deur sy skoon omgewing en die gasvryheid van sy mense, maar wat die dorp uniek maak is die feit dat alle arbeid deur Afrikaners verrig word - van die bankbestuurder tot die bouer, alle werk op Orania word deur Afrikaners gedoen.

Volkseie Arbeid

Sodra 'n etniese minderheid op sy eie arbeid staatmaak is hy nie afhanklik van meerderheid bevolkingsgroepe vir die dag tot dag funksionering van sy samelewing nie. So 'n gemeenskap word deur sy eie mense bestuur en is nie uitgelewer aan vreemde regeerders en die kritiese probleme wat veroorsaak word deur 'n regering wat nie dié minderheid se beste belange op die hart dra nie.

Op Orania sien ons dat selfwerksaamheid hand aan hand loop met selfstandigheid en dat die hele gemeenskap die voordele geniet wat daaruit spruit. Min tot geen misdaad, bestendige bestuur, 'n lae werkloosheidsyfer, goeie diens en 'n produktiewe samelewing - dis maar net 'n paar voordele wat die toepassing van volkseie arbeid op Orania vir sy gemeenskap bied.

'n Groen Gemeenskap

Orania is baie ernstig oor natuurbewaring en gee om vir sy skoon omgewing. Alle huishoudings op Orania skei hul vullis in 5 aparte asblikke, nl. nie-herwinbaar, papier, plastiek, glas en metaal. Herwinning begin dus reeds by die oorsprong en almal lewer 'n bydrae om besoedeling te bekamp.

Sonkrag geysers is verpligtend vir alle nuwe huise wat gebou word terwyl elektriese geysers stelselmatig uitfaseer word by die ouer huise op die dorp. Vindingryke "groen-argitektuur" word gekenmerk deur die gebruik van klip, hout en strooibale as boumateriaal vir sommige van die nuwe huise op Orania. Hierdie eko-vriendelike bou praktyk hou vele praktiese sowel as estetiese voordele in.

Meer as 30 000 bome is al op Orania geplant terwyl die pragtige Oranjerivier en die uitgestrekte landerye om die dorp ook bydra tot die Afrikanertuiste se voorkoms as 'n groen oase in die Karoo.

Afrikaner Vryheidsideaal

Sedert die 1950's het navorsing deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (SABRA) aangedui dat die Afrikaner in die toekoms toenemend in die minderheid gaan wees in suidelike Afrika.

Afrikaners vorm nêrens 'n volstrekte meerderheid in suidelike Afrika nie en die feit dat 'n minderheid nie verewig oor 'n meerderheid kan regeer nie het gelei tot magsoorgawe aan die ANC in 1994. Daarmee het die Afrikaner ook selfbeskikking oor sy instellings (bv. weermag, universiteite, hospitale ens.) en eie aangeleenthede verloor.

SABRA en die Afrikaner Vryheidstigting het sedert die 1980s volgehou dat die yl bevolkte Noordwes-Kaap die enigste gebied is wat genoegsame ruimte en natuurlike hulpbronne bied vir Afrikaners om meerderheidsbesetting te bewerkstellig. Vir die Afrikaner om sy reg op selfbeskikking te herstel is dit 'n nie-onderhandelbare vereiste dat hy 'n volstrekte meerderheid in 'n duidelik identifiseerbare grondgebied vorm.

Om hierdie doelwit te bereik moet die Afrikaner nuwe dorpe in die Noordwes-Kaap van nuuts uit die grond uit opbou en bestuur met sy eie arbeid. Orania, geleë in die Noordwes-Kaap, is in 1991 gestig juis met die doel om die bloudruk te word vir dergelike nuwe Afrikaner dorpe wat tussen die Bo-Karoo en die Weskus gevestig gaan word.

Die uitdaging is groot, maar gedurende die afgelope twee dekades het 'n paar moderne voortrekkers op Orania as't ware bewys dat Afrikaners in staat is om ons eie instellings met ons eie arbeid op te rig en selfbeskikking daaroor, ook oor ons eie aangeleenthede, toe te pas.

Die einddoel is die vreedsame herstel van die Afrikaner se vryheid in 'n onafhanklike Republiek wat strek van Orania tot die Weskus. Ons strewe om selfstandige nuwe dorpe en eie instellings vreedsaam met ons eie arbeid op te rig voldoen nie net aan internasionaal aanvaarde riglyne m.b.t. sesessie nie, maar ook aan die ekonomiese vereistes wat met onafhanklikheid gepaard gaan.

Die reg op selfbeskikking binne 'n territoriale entiteit word ook deur Artikel 235 in die RSA grondwet beskerm. Die vryheidsideaal, soos dit op Orania bevorder word, is dus in alle opsigte wettig en volhoubaar. Dit is nou 'n geval van doen, eerder as praat.

Elke generasie is verantwoordelik vir sy eie tyd. Laat ons as vry Afrikaners dan die toekoms positief en doelgerig ingaan terwyl ons saambou aan ons volkstaat - steen vir steen en tree vir tree, met die wete dat ons in die voetspore volg van vele geslagte voor ons wat ook die byna onmoontlike vermag het te danke aan hul geloof in God en die bittereinder moed wat steeds vloei deur die are van elke Afrikanerman, -vrou en -kind.

Vryheid in ons tyd!













Ontvang die Vlamvat Nuusbrief

Bly op hoogte van al ons bedrywighede en ontvang interessante nuus uit Orania! U e-pos adres:
 
Kaart van Orania


Orania


Orania